Fiat se plan met Lancia in Yank-land
2010-01-14 14:12
Marnus Hattingh
By die Chrysler-uitstalruimte in Detroit, waar die Yanks nou motorskou hou, het ’n hartseerding vandeesweek gebeur. Lancia het uiteindelik sy pad oopgeveg gekry van Italië af tot in V8-land, maar in die proses sy siel verkoop.
Maar laat ek my storie met ’n handbriek-draai daar anderkant begin.
’n Groep akademici van Amerika het die afgelope Kersvakansie hul gebraaide kalkoen vir speurwerk op die rekenaarskerm verruil.
Vat so, sal jy sê. Dis tog niks vreemds nie. Lang, koue winters doen dit mos aan navorsers. Amper soos jou eie motorhuis in Juniemaand, met ’n hoesende Ford Escort wat net ’n bietjie aandag nodig het.
Dis net, die span slim ouens het in hul navorsing ’n merkwaardige ding agtergekom. Die meeste nuus wat jy op die internet raakloop, sê hulle, is deur koerante gegenereer. Harde nuus, vermaak, Tiger en Joost, die hele lot. Die groot stigma, sê die witjasse, dat die internet en die selfoonkamera tot ’n rits amateurverslaggewers aanleiding sou gee, was toe net ’n wolhaarstorie.
Die meeste webwerwe gaan haal hul inligting by ’n koerant. Hulle skep dit nie self nie. Dis bloot ’n oorplakkery en herhalery van wat reeds elders in harde ink opgeskryf staan op hul eie nuuswerwe.
Sien, niks het toe gekom van Tjoepie la Grange, die gewone toeskouer by die Stormers se oefening, wat gewapen met ’n selfoonkamera en spitsore ’n verslag opstel van wat nou eintlik by die Stormers aan die gang is nie.
Brekende nuus, sê die navorsers, word steeds deur die koerante gegenereer. Hulle het die mannekrag en die toerusting om die nuuskanale te dryf. Uiteindelik word net iets soos 4% van alle nuus deur lesersbydraes aangevuur. En dis meestal beperk tot ooggetuiefoto’s van ’n omstander wat eerste op die toneel is. Daarna neem die koerante in hul professionaliteit oor.
Ook maar goed so, sê my buurman. Dit beteken koerante sal nie so gou uitsterf soos gevrees is nie. Wat maak dat hy hom nog ’n tyd lank nie hoef te bekommer oor papier vir die voëlhok nie. Of as hy sy kar wil spuitverf, die vensters wil was, die vuur wil aansteek of ’n zol wil swaai nie.
Ek dink dis iets anders wat ’n rol speel. Koerante is geloofwaardig. Hulle het ’n handelsmerk wat maklik 100 jaar oud is. Wie gaan jy die meeste glo, die groot koerant of Tjoepie la Grange se rits spelfoute?
Dis dieselfde ding wat nou in Detroit gebeur het.
In die land van die Big Mac kan jy enigiets kry, maar ’n Lancia en ’n Alfa Romeo gaan jy moet soek totdat jy in Milaan eindig. Peugeot en Citroën ook, maar ek dink dis eerder omdat g’n Yank weet of Peugeot as Poe-jou of Pû-joe uitgespreek moet word nie.
Nou het die Italianers egter ’n plan; want omdat Amerika een van die grootste markte in die wêreld is, kan jy dit nie bekostig om nié jou ryding daar te verkwansel nie. Einde verlede jaar het Fiat Chrysler oorgeneem, en dis hoekom jy vandeesweek ’n nuwe Lancia Delta met ’n Chrysler-kenteken op die neus raakgeloop het.
Dis voorlopig net eers Lancia wat Fiat so wil veramerikaans. Maar hy’t glo planne met Alfa ook.
’n Chrysler-Alfa? Dis die selfoonkamera-ekwivalent van die nuuswêreld. Al het jou nuwe mark geen snars begrip van die herkoms en waardes van jou Italiaanse ryding nie, vergestalt dit tog wie en wat hy is. En wat jý is, wat die vuurwa aanskaf.
Jy koop vier wiele, maar ook die leefstyl en passie wat daarmee saamgaan.
Ek’s bevrees Fiat begaan ’n fout, en die ding gaan nog boemerang. ’n Alfa sonder vier groen blaartjies op die neus is soos ’n Big Mac sonder ’n patty. Wie wil dit nou hê?
- Die Burger