Feestyd: Owerhede sal paaie met ystervuis regeer
2011-12-07 08:18
Kaapstad – Die publiek sal voortaan toegelaat word om beeldmateriaal van ongelukke te kyk as deel van die Kom Veilig Tuis-veldtog, het die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveligheid bekendgemaak.
Die rede hiervoor is sodat bestuurders ingelig kan word oor die gevare van roekelose bestuur.
Steven Otter, woordvoerder van die departement van vervoer het gesê hulle wil bewustheid rondom veiligheid by motoriste skep.
"Sommige mense verstaan nie die gevolge van dronkbestuur of wanneer hulle hul selfone gerbuik terwyl hulle bestuur nie. Dit is 'n poging om bestuurders se gedrag te beïnvloed."
Volgens Otter is die departement nog besig om te besluit of die beeldmateriaal op televisie uitgesaai moet word.
Die videos kan op die departement se webwerf, wat op 6 Desember bekendgestel is, gekyk word.
Mense wat die videos wil kyk kan www.safelyhome.co.za of safelyhome.westerncape.gov.za besoek.
Die Wes-Kaapse departemente van gemeenskapsveiligheid, vervoer en gesondheid het weer die Kom Veilig Tuis-veldtog bekendgestel in 'n poging om dronkbestuur gedurende die feestyd te beperk.
Dié veldtog sal veral fokus op sigbaarheid, wetstoepassing en onderrig op alle paaie in die Wes-Kaap.
Sedert die veldtog se bekendstelling in 2009 het padsterftes met 23% afgeneem.
Die ministerie van vervoer sal meer as dubbel die gewone aantal padblokkades oor 'n periode van twee maande hou. Hulle beplan om 325 padblokkades te hou en beraam dat ongeveer 320 000 voertuie afgetrek gaan word.
Die datums wanneer padblokkades vir die Kom Veilig Tuis-veldtog gehou gaan word sluit in:
9 Desember
15/16 Desember
22/23 Desember
26 Desember
31 Desember
1/2 Januarie
5/7 Januarie
– Wheels24.
– Volg Nuus24 op Twitter.