Elantra is heel gaaf, maar waar’s die Jetta?
2012-03-22 08:03
Bloemfontein – Die aap is al uit die mou – Hyundai het nog ’n titel wat agter sy Elantra se naam kan staan.
Die Hyundai Elantra is verlede week as Suid-Afrika se motor van die jaar aangewys. Die beoordeling is deur jurielede van die Suid-Afrikaanse gilde van motorjoernaliste gedoen.
Die Elantra is in Januarie op die Detroit-motorskou as Amerika se motor van die jaar aangewys, waarna ook die Kanadese hul regmerkie agter die Suid-Koreaan gemaak het.
Dit is die eerste keer dat ’n Koreaanse voertuig die Suid-Afrikaanse kompetisie wen.
Verlede jaar was daar drie Koreaanse voertuie onder die finaliste (die Hyundai iX35, die Hyundai Sonata en die Kia Sportage), maar nie een kon die pyp rook nie. Die motor-van-die-jaar-kompetisie is nie sonder haakplekke nie, berig Marnus Hattingh.
Die samestelling van die beoordelaarspaneel het oë in die bedryf laat rek. Die land se voorste motortydskrifte (Car, TopCar, TopGear) was byvoorbeeld nie verteenwoordig nie, terwyl ook ander groot publikasies (soos Rapport en Star Motoring) geskitter het deur hul afwesigheid. Die joernaliste van dié publikasies is van die land se mees ervare motorskrywers. Die kans is goed dat die uitslag anders sou wees as hulle onder die keurders was.
’n Ander probleem is dat die joernaliste van die meestal kleiner titels wat wel deel van die paneel was, ooglopend baie klem op waarde vir geld geplaas het.
Die kompetisie se hoofdoel is om daardie motor te beloon wat motor-uitnemendheid vergestalt. Die prys speel dus streng gesproke nie ’n rol nie. Maar te oordeel na die uitslae was prys en waarde wel twee groot faktore in die beoordelaars se gedagtes.
Waarde-vir-geld-voertuie het puik gevaar, terwyl duurder en aweregse voertuie sleg tweede gekom het.
Meganies is die Alfa Giulietta byvoorbeeld vernuwend (enjin en vering) en derhalwe ’n leier in sy klas. Maar sy posisie reflekteer dit glad nie.
Ook die Citroën en die Mercedes SLK het meganies gesproke uitstekende vaardighede, maar hul prys het hulle beslis in die voet geskiet.
Die VW Jetta en die Hyundai Elantra ding in dieselfde klas mee, maar die Jetta het beduidend swakker gevaar. Dit is baie koddig.
Meganies is die Jetta stukke beter – sy enjin en ratkas is tegnologies vernuwend en op die jongste stand – terwyl sy bougehalte, afwerking en rit onberispelik is.
Sy stilering (binne sowel as buite) is egter baie vaal en konserwatief, en langs die vloeiende lyne van die Elantra steek hy erg af. Dit wil dus lyk of prys en voorkoms die sterkste geweeg het toe die motors beoordeel is.
As die motor-van-die-jaar-kompetisie nie sy beoordelaarspaneel op peil kry nie, gaan hy sukkel om geloofwaardigheid in die bedryf te hê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld