Duisende Ford Figo's in SA herroep
2012-08-14 14:10
Kaapstad – Minstens 10 000 Ford Figo-modelle in Suid-Afrika is herroep weens probleme met die motor se onderdele, het die maatskappy gesê.
Ford in Indië gaan minstens 111 000 voertuie, wat dié in Suid-Afrika insluit, herroep om dit vir moontlike foutiewe motoronderdele, wat kan veroorsaak dat die voertuig langs die pad gaan staan of selfs brande kan veroorsaak, na te gaan.
Die maatskappy het Maandag gesê hulle wil sekere Figo-luikrugmodelle en klassieke sedan-modelle wat tussen Januarie 2008 en Februarie 2011 vervaardig is, nagaan vir moontlike probleme.
Ford het gesê geen beserings is tot dusver weens die moontlike probleme aangemeld nie.
Die maatskappy het gesê hy het reeds begin om eienaars in Indië deur middel van briewe in kennis te stel.
Ford in Suid-Afrika sal teen einde Augustus die nuwe motoronderdele ontvang wat hulle met die foutiewe onderdele moet vervang en sal dan begin om eienaars wat deur die herroeping geraak is, te kontak.
'n Woordvoerder van Ford in Indië kon nie onmiddellik sê hoeveel die herroeping die maatskappy sal kos nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP