Dräger-asemtoetser dalk binnekort terug
2012-09-26 12:35
Kaapstad – Die Dräger-asemtoets, wat nie meer gebruik word nie, kan dalk teen November weer in gebruik wees, is Woensdag in 'n berig bekendgemaak.
The Star het berig dat die gebruik van die asemtoetser verlede jaar in September opgeskort is toe die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind het dat dit nie aan die nodige vereistes voldoen nie.
Regter Nathan Erasmus het beslis dat die resultate wat verkry is nadat die Dräger Alcotest 7110 Mark III gebruik is, kan nie as bewyse gebruik word nie omdat dit nie behoorlik gekalibreer is nie en die verbruikershandboek is nie behoorlik gevolg nie.
Hy het gesê die toestel moet aangepas word sodat dit kan voldoen aan die hof se standaard.
Die toestel, wat die hoeveelheid alkohol in 'n persoon se asem bepaal, is in Athlone gebruik om motoriste vir dronkbestuur te toets.
Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, het aan The Star gesê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aangedui hulle hoop die asemtoetser sal gereed wees om teen November te gebruik.
Volgens Carlisle het die hof 'n hele paar vereistes gegee wat nagekom moet word voordat die asemtoetser weer gebruik kan word, insluitend tegniese verstellings en opleiding.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA