Corolla kry 2.0 liter-woema
2010-08-05 07:58
Soos melktert op ’n Saterdagmôre; beskuit in jou koffie gedoop; karwas in die oprit terwyl jy na die top-40 luister.
Jip, die Toyota Corolla is so deel van ons Suid-Afrikaanse psige soos kla oor die ref by die vleisbraai. Nou het Toyota besluit om dié staatmaker ’n raps verder te verfris noudat die sedan bykans halfpad deur sy rakleeftyd is.
Die kosmetiese veranderings is redelik subtiel. Daar’s ’n nuwe sierrooster wat dieper en skerper lyk (as jy mooi kyk), terwyl die hoofligte ook ’n skerper punt na binne het.
Toyota sê al dié “skerper” punte se doel is om hom ’n forser voorkoms te gee. Myns insiens het die Corolla nie ekstra hulp nodig nie; hy’s heel mooi en vaartbelyn soos hy daar staan.
Binnelangs spog die Corolla nou met ’n dikker stuurwiel en ’n wit agtergrond vir die toereteller en spoednaald. Ook dít moet help met ’n sportiewer aanslag.
Die grootste verandering is onder die enjinkap, waar Toyota sy 1.8-liter deur ’n frisser 2.0-liter (102 kW, 189 Nm) vervang het.
Dink egter ’n bietjie aan die verkoopsmanne. Vroeër die jaar het Toyota ook sy 1.4 liter-intreevlakmodel vervang deur ’n 1.3-liter. Dié een-punt-drie lewer weliswaar méér krag en wringkrag as die groter-slagvolume-enjin wat hy vervang het, maar probeer dit nou aan die gemiddelde koper verduidelik…
Iets waar ’n mens wel die hoed moet lig vir Toyota, is dat die Corolla-reeks nou regdeur met net ’n sesgang-handratkas beskikbaar is (vir jou handratkeuse). G’n gepoer-poer met ’n vyfgangkas meer nie. Ongelukkig word dit teengewerk deurdat net ’n viergang- outomatiese kas as die keuse vir ’n outomatiese ratkas beskikbaar is.
Net vier gange? Selfs in die 1.6-liter het jy maar gestoei teen ’n bult om jou spoed te handhaaf. Die kierie bied wel die keuse om die kas in derde of selfs tweede te hou, maar dan klim die enjin deur die enjinkap en jou brandstofrekening deur jou drinkgeld.
Die punt is, die moderne, hedendaagse Corolla is ’n groot sedan. Hy is lank, groot en swaar.
Om ’n viergang- outomatiese kas aan ’n 1.6-liter te koppel en te verwag jy moet jou spoed handhaaf teen ’n bult, is baie gevra.
Die groter tweeliter gedra hom beter, maar jou belangrikste winste is dat jy beter verbruik- en uitlaatgassyfers het.
Ongelukkig kon ons nie die tweeliter-turbodiesel (93 kW, 300 Nm) bestuur nie, maar dié beloof om die beste keuse van die reeks te wees.
Behalwe vir die meer nugtere, wit afwerking op die instrumente en die dikker stuurwiel, lyk die Corolla ook moderner en meer in pas met sy mededingers danksy sy flikkerligte wat nou ook in sy kantspieëls knipoog.
Voeg daarby dat jy nou ook ’n elektroniese stabiliteitsprogram (ESP) vir die twee topmodelle (die tweeliters) kan aanvra en die Corolla begin veldgebied terugwen wat hy aan sy mededingers afgestaan het.
Die Corolla is lank nie meer die goedkoop stel wiele vir eerstemotor-kopers van weleer nie. Daarvoor is hy fisiek te groot en te verfynd wat meganika betref.
Maar hy is vandag ’n mooi sedan, ’n sedan wat ’n sagte en stil rit bied. Nie so dinamies soos sy mededingers nie, maar doeltreffend. En dis waarom ons nog altyd van die Corolla hou.