Chapmanspiek-tolhek se koste kan styg
2012-10-01 10:26
Kaapstad – ‘n Deel van die steengroef waar die Chapmanspiek-tolhek gebou word, het glo ineengestort, het die Cape Times berig.
Die geoloog John Compton het aan die koerant gesê dié deel van die berg bestaan uit verweerde graniet, wat baie onstabiel is.
Hy het egter bygevoeg dat ingenieurs met ‘n ontwerp vorendag sal kom om die deel meer stabiel te maak, maar dat dit peperduur sal wees.
“Die paddeurgrawings by Chapmanspiek het ‘n dik, verrotte graniet wat gewoonlik deur plantegroei bedek word. Dit is dik, geel en krummelrig,” het Compton gesê.
“Dit is altyd ‘n probleem as mens ‘n pad bou; jy moet ‘n steiler helling kunsmatig vervaardig, wat nie so stabiel soos voorheen gaan wees nie.”
Hy het voorspel dat die projek se koste van sowat R53 miljoen na R80 miljoen kan styg.
Siphesihle Dube, woordvoerder van die provinsiale verkeersdepartement, het gesê hy is nie bewus van die grondverskuiwing nie, maar sal ondersoek instel.
‘n Aansoek om ‘n interdik teen die konstruksie van die Chapmanspiek-tolhek is vroeër vanjaar in Kaapstad in die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA