Belasting op uitlaatgasse kom dalk
2010-08-06 01:48
Suid-Afrika het nie die voordeel van “groen” brandstof nie, maar ‘n nuwe belasting op uitlaatgasse is dalk op pad, het die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) Donderdag gesê.
“Nêrens in die wêreld het enige land al belasting op koolsuurgas ingestel sonder die beskikbaarheid van brandstof wat uitlaatgasse beperk nie,” het Naamsa in ‘n verklaring gesê.
Naamsa bepleit wetgewing en inisiatief van regeringskant om Euro IV “groen” brandstof, wat skadelike uitlaatgasse beperk, in Suid-Afrika beskikbaar te maak.
“Dit sal ‘n enorme tree vorentoe wees om vlakke van koolsuurgas-uitlatings by nuwe motors wat verkoop word, te beperk.”
Meer spesifiek kan ‘n korrekte brandstofgehalte die skadelike gasse wat nuwe motors uitlaat met tot 20% laat daal.
“Buitendien bevat ‘n beter gehalte brandstof minder skadelike bensien en swawel. Dié brandstof kan dus lei tot ‘n verberte luggehalte, ondanks die ouderdom of soort motor wat gebruik word,” het Naamsa gesê.
Verder was die doel van die nuwe-motor-koolsuurgas-belasting om verbruikers te beïnvloed om meer doeltreffend met brandstof om te gaan, om motors wat koolsuurgas uitlaat te beperk en, in die proses, om die gehalte van lug in die land te verbeter.
Naamsa sê egter die belasting sal nie by die verkoopspunt toegepas word om so deursigtigheid met die kliënt te verseker nie.
“Die belastingowerhede het aangedui die belasting sal toegepas moet word by die vervaardigingspunt, by motors wat plaaslik vervaardig word, en by die punt van invoer, by motors wat ingevoer word.
Naamsa sê belasting sal dus deel van die motor se verkoopprys word en dus nie die toets van deursigtigheid vir die kliënt slaag nie. Die einddoel sal ook nie bereik word nie.
- SAPA