Baie bots oor hulle kyk na padongelukke
2011-07-13 08:00
Johannesburg – Die naasgrootste oorsaak van padongelukke wat weens aandagafleiding veroorsaak word, is dat bestuurders na ongelukke en ander motors kyk, is in ’n onlangse studie in die VSA bevind.
Moegheid is die grootste oorsaak van sulke ongelukke.
ER24 het in ’n verklaring gesê bestuurders se nuuskierigheid by padongelukke, in Engels bekend as “rubbernecking”, is ook in Suid-Afrika ’n groot probleem.
Dit is wanneer ’n motoris stadig verby ’n ongeluk ry om te kyk wat aangaan.
Mnr. André Visser, ER24-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê paramedici en die metropolisie doen hul bes om ongelukstonele veilig te maak terwyl hulle ook motoriste wat verby ry in ag moet neem.
Hy meen gevaar kan nie heeltemal uitgeskakel word nie, want te veel motoriste maak hulle skuldig aan “rubbernecking”.
Volgens Visser veroorsaak dié gedrag ook onnodig lang verkeersophopings.
’n Ongeluk aan een kant van ’n snelweg kan selfs tot verkeersophopings aan die ander kant van die snelweg lei omdat mense aan albei kante probeer kyk wat aangaan.
Visser meen die meeste mense wat dit doen, besef nie hulle dra tot die verkeersophoping by nie, want dit duur gewoonlik tussen vyf en tien sekondes om verby ’n ongelukstoneel te ry.
Die probleem is dat te veel motoriste dit doen.
As 60 motors elk tien sekondes lank verby ’n ongelukstoneel ry, veroorsaak dit ’n verkeersophoping wat tien minute duur.
Visser het gesê dié tyd kan verdubbel of -driedubbel, afhangend van hoe lank die ongeluk ’n versperring op die pad is.
Hy meen die verskynsel het in die laaste paar jaar ’n groter probleem geword omdat mense ook probeer om foto’s en video’s van ongelukstonele te neem.
Sulke motoriste is bekend as “digineckers”.
Volgens Visser fokus die nuuskieriges nie op die pad reg voor hulle nie. Wanneer hul aandag op ’n ongelukstoneel is, is dit baie maklik om self ’n ongeluk te maak.
Hy het gesê dis glad nie ongewoon dat noodwerkers op ongelukstonele ook na die slagoffers van sekondêre ongelukke omsien wat weens “rubbernecking” gebeur het nie.
Visser het motoriste gemaan om hul eie en ander mense se veiligheid bo hul nuuskierigheid en behoefte te stel om moontlik grutonele op ongelukstonele te sien.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld