Alto tydig hier
2009-08-27 11:35
Johannesburg - Willem Fritz - Met die resessie in die lug, duur brandstofpryse en ’n groter fokus op omgewingsvriendelike en bekostigbare rygoed kon Suzuki se nuutste en vyfde toevoeging tot die mark, die Alto, seker nie op ’n beter tyd gekom het nie.
Suzuki het sedert hy ongeveer ’n jaar gelede na Suid-Afrika teruggekeer het merkwaardige groei getoon en sy markaandeel selfs in die moeilike ekonomiese toestand vergroot.
Die Alto is die vervaardiger se nuwe stadsmotortjie in die A-segment van die mark. Dit is veral gemik op jonger kopers wat dit nie breed het nie en ’n goedkoop en ekonomiese ryding soek wat waarde vir geld bied en op die koop toe ook iets vir die oog is. Nie ’n maklike taak nie.
Gelukkig is Suzuki goed toegerus vir die taak, want die vervaardiger word al dekades lank beskou as ’n voorste vervaardiger van klein motors wat ook lekker prettig is.
Die Alto is inderdaad klein, nie veel groter as ’n skoenboks nie, maar sy slim ontwerp bring mee dat daar baie ruimte uit die “skoenboks” getoor kan word. Boonop lyk hy ook vars en prettig en sy klein afmetings maak hom die ideale stadsmotortjie.
En die prys… kopers soek in die huidige moeilike tyd bekostigbare rygoed. Maar soos ons al geleer het met van die Chinese vervaardigers se rygoed kan dinge begin lol as ’n goedkoop prys, heelwat standaardtoerusting en gehalte met mekaar versoen moet word. Dis gewoonlik gehalte wat daaronder ly. Gelukkig het Suzuki met die Alto daarin geslaag om die drie aspekte goed in balans te bring.
Die Alto is dalk nuut in Suid-Afrika, maar is eintlik al die sewende generasie. Die eerste model het al in 1979 sy verskyning in Japan gemaak en was van die begin af ’n treffer.
Twee modelle is in Suid-Afrika beskikbaar, die GL- en GLS-model, en albei word aangedryf met dieselfde kragbron, naamlik ’n 1 liter-driesilinderenjin wat 50 kW teen 6 000 r/min en 87 Nm teen 4 500 r/min lewer. Moenie dat die syfers jou flous nie, die Alto voel heel lewendig op die pad, onder meer oor sy ligte gewig, net 895 kg. Die klein enjin, gekombineer met sy ligte gewig, beteken ook dat die Alto net liggies snuif aan petrol wat weer goeie brandstofverbruiksyfers van 6,9 liter/ 100 km in die stad en 5,0 liter/100 km op die oop pad tot gevolg het.
Die enjin is wel ’n bietjie raserig as jy hom druk en ’n effense vibrasie dring die kajuit binne teen luierspoed, maar oor die algemeen voel kraglewering bo verwagting goed en selfs op die snelweg kan die Alto hom laat geld, hoewel ek nie ’n rit van Gauteng af Kaap toe sal aanbeveel nie.
Ratskakeling uit die vyfgang-handratkas voel ook lekker lig en sekuur. Die petrol-pedaal is wel ’n bietjie stram, wat soms hinderlik kan wees. Die rit is ook verbasend aangenaam en absorberend vir so ’n klein motortjie en die ligte stuur, klein draaisirkel van 9 meter en ratse hantering maak die Alto ’n plesier in die stad.
Daar is twee afwerkingsvlakke – die basiese GL- en die luukser GLS-model.
Die GL het min ekstras, maar daar is darem lugversorging, twee lugsakke voor, ’n immobiliseerder, afstandbeheerde brandstofluik, 12 V-hulpkragpunt, ’n agterbank wat kan platslaan, sy-impakstawe in die deure, Isofix-hegpunte vir kinderstoele en ’n dakgemonteerde lugdraad. Die gebrek aan ’n radio/CD-speler en veral toereteller is ’n jammerte.
Die GLS bied darem heelwat meer vir die kieskeuriger koper. Die GLS het ook ’n ingeboude radio/CD-speler met ses luidsprekers wat ook MP3’s kan speel, elektriese ruite voor, ’n toereteller, afstandbeheerde sentralesluitstelsel, hoogteverstelbare stuurwiel en agterbank wat 50/50 verdeel is en individueel kan platvou. Buite het die GLS allooi¬-wiele, kleurbypassende deurhandvatsels en syspieëls en misligte. Daar is ook ABS met elektriese remkragverspreiding en remkraghulp. Die Alto het ook drie sterre gekry in die nuutste en heelwat strenger
Euro-NCAP-veiligheidstoetse.
Die kajuit is heel ruim en bied sitplek vir vier mense. Die agterste beenruimte is wel aan die knap kant, maar dis darem te verstane. Daar is ook heelwat kopruimte en die bagasiebak kan ’n skaflike 110 liter vat wat tot 354 liter vergroot kan word deur die agterbank plat te slaan.
Daar is heelwat ander stoorplekkies in die kajuit. Daar is wel nie ’n tradisionele paneelkissie nie, maar ’n oop vlak vir los goed. Dit kan dalk ’n probleem wees in ons land, waar ’n mens goed liewer buite sig wil hou.
Die instrumentpaneel en die res van die binnekant lyk heel vars en modern, maar ’n mens kan sien daar is gespaar met die heelwat harde plastiek wat gebruik word en wat effe goedkoop lyk. Die afwerking lyk darem heel skaflik. Die toereteller (in die GLS) staan in ’n aparte huls regs bo-op die instrumentpaneel en tref nogal die oog. Die basieser GL lyk wel effe “kaal” sonder die radio en toereteller.
Van buite gesien lyk die Alto soos jou tipiese “oulike” stadskarretjie, maar met ’n eiesoortigheid wat hom laat uitstaan. Sy moderne lyne behoort ook in die jonger kopers se smaak te val.
Die GL kos R104 900 en die GLS R119 900 en albei het ’n driejaar/100 000 km-waarborg.
Die Alto is nie spotgoedkoop nie, maar soos genoem bied hy ’n goeie kompromie tussen prys, toerustingvlak en gehalte en sy werkverrigting en rit is ook bo verwagting goed. Die modebewuste, jonger kopers kan dus met tevredenheid in hul Alto’s klim en die stad op horings neem.
- Beeld