Alonso mik vir titel nommer drie
2012-09-21 14:06
Singapoer – Fernando Alonso, wat bo-aan die Formule 1 se punteleer vir bestuurders is, wil die ontslape Ayrton Senna se rekord van drie wêreldtitels ewenaar.
Alonso het drie weke gelede Senna, wat sy held was, se aantal podiumposisies geëwenaar.
Dit was Alonso se 80ste keer op die podium.
Die Ferrari-renjaer het gesê hy kon dit nie glo toe hy Senna se podiumposisies geëwenaar het nie, omdat hy met plakkate van Senna op sy muur groot geword het. Slegs Michael Shumacher en Alain Prost was al meer kere op die podium.
“Ek is so trots. Wanneer ‘n mens iets van Senna ewenaar is dit iets groot, veral vir my,” het Alonso in die aanloop tot die Singapoer Grand Prix gesê.
“Ek het altyd sy wedrenne gevolg, sy motor gehad, sy plakkate in my kamer, so wanneer jy die dieselfde aantal podiumposisies as hy het dan is dit iets wat ek nie kan glo nie.”
Tog het Alonso ‘n groter droom. Hy wil sy derde wêreldtitel verower wat hom ook gelyk met Senna sal plaas.
Alonso, wat sy eerste twee wêreldtitels in 2005 en 2006 gewen het, loop tans met 37 voor op die punteleer vir bestuurders.
“Alles gaan goed in my loopbaan. Ek voel baie goed, baie gelukkig en ek hoop om nog belangrike mylpale soos Senna te bereik.”
Alonso het egter erken dat McLaren die gunstelinge is vir die naweek se wedren in Singapoer, nadat die span twee van die laaste drie wedrenne gewen het.
“Almal is sterk op die oomblik en almal staan ‘n kans. Daar is nog vyf of ses renjaers wat die titel kan vat.”
“Lewis (Hamilton) is ‘n sterk teenstander. Ek sê al sedert Februarie dat Lewis die een is vir wie ek die meeste respekteer.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP