e.tv beboet oor grusame beelde van Gaddafi
2012-02-03 07:01
Johannesburg – Die uitsaaier e.tv moet R35 000 opdok omdat hy grusame beelde van die dood van kol. Muammar Gaddafi, voormalige Libiese leier, in sy nuusbulletins uitgesaai het.
Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het drie klagtes van kykers ontvang.
Twee spruit uit nuusbulletins wat op eNews op DStv uitgesaai is en een uit beeldmateriaal op e.tv se nuus.
Volgens die UKKSA het eNews op 20 Oktober verlede jaar die subskripsiekode oortree deur nie ’n waarskuwing te gee voordat die gewelddadige beelde uitgesaai is nie. Die kanaal is weens dié versuim met R10000 beboet.
Die kanaal het ook die subskripsiekode oortree omdat hy op 22 Oktober nie waarskuwings tydens die nuushoogtepunte, wat om 09:00, 09:30, 10:00, 10:30 en 11:00 uitgesaai is, verskaf het nie. eNews is met R5 000 vir elk van die vyf oortredings beboet.
Die kanaal moet die boetes van altesaam R35 000 voor einde vandeesmaand betaal.
Die UKKSA het ook bevind eNews het tydens 11 verskillende nuusbulletins en -hoogtepunte op 20, 22 en 23 Oktober die gratistelevisie- en subskripsiekodes oortree.
Vasili Vass, e.tv-woordvoerder, het Donderdag gesê: “Ons sal heel moontlik appèl aanteken.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld