Zuma op pad na Angola
2009-08-18 10:38
Luanda – President Jacob Zuma sal Woensdag na Angola vertrek in ‘n poging om bande tussen Suid-Afrika en een van die kontinent se grootste olie-produseerders te versterk.
Dit sal Zuma se eerste staatsbesoek wees nadat hy in Mei as president verkies is.
Hy sal bygestaan word deur 11 ministers van die regering, en ‘n groot groep afgevaardigdes uit die privaat sektor, in die hoop om kontrakte te sluit in areas soos konstruksie en energie.
Gedurende die besoek, wat Vrydag eindig, sal Zuma in gesprek tree met Eduardo dos Santos, die president van Angola.
Hulle sal ook besigheidsleiers in Luanda gesamentlik toespreek.
“Die besoek gaan oor die versterking van verhoudinge tussen Suid-Afrika en Angola, sowel as om ‘n basis te bou vir beter ekonomiese samewerking tussen die twee lande,” het Collins Chabane, minister in die presidensie belas met monitering en evaluering, gesê.
“Die gesprekke sal oor energie, mynwese en konstruksie handel, spesifiek in behuising, sowel as ander ekonomiese areas,” het hy bygevoeg.
Baie van Angola se infrastruktuur is vernietig gedurende ‘n 27-jaar burgeroorlog wat in 2002 geëindig het.
Die land is besig met groot heropbouingsprojekte, insluitende paaie, skole, hospitale en huise.
- Sapa-AFP