Zuma geskok oor Uganda-bomme
2010-07-13 11:42
Johannesburg - President Jacob Zuma het Maandag skok en ontsteltenis uitgespreek oor die “betreurenswaardige” bomontploffings in Uganda waarin 74 mense dood en talle beseer is.
"Die Suid-Afrikaanse regering veroordeel hierdie terrorisme wat daarop gemik was om onskuldige mense te beseer op die sterkste moontlike wyse,” het Zuma in ‘n verklaring gesê.
Twee bomme het Sondag by ‘n Ethiopiese restaurant en ‘n rugbyklub in Uganda se hoofstad Kampala ontplof terwyl talle mense die finaal van die Wêreldbeker-sokkertoernooi gekyk het.
Zuma het gesê die regering glo dat geen rede vir die aanvalle die dood van onskuldige mense kan regverdig nie.
“Die Suid-Afrikaanse regering het ‘n beroep gedoen op enige persoon of organisasie wat verantwoordelik is vir hierdie wrede aanvalle om hulle daarvan te weerhou om diskriminerende geweld te gebruik om hulle doelwitte te bereik en dat hulle hul doelwitte op ‘n vreedsame wyse moet probeer najaag.”
Zuma het alle beseerdes ‘n spoedige herstel toegewens.
Volg Nuus24 op Twitter