Zuma gaan as deel van AU-paneel Tripoli toe
2011-05-26 09:56
Kaapstad - President Jacob Zuma is aanstaande week in Libië as deel van 'n hoëvlak Afrika Unie-afvaardiging wat die konflik in Libië wil probeer oplos.
Die presidensie het gesê dat vroeëre berigte dat Zuma Tripoli gaan besoek as deel van 'n strategie om saam met die Turkse regering oor die Libiese leier, Muammar Gaddafi, se lot te beslis, nié korrek is nie.
Zizi Kodwa, die woordvoerder van die presidensie, het gesê dit is 'n opvolgbesoek deur die paneel wat die Afrika Unie aangestel het om die konflik in Libië te probeer beëindig.
Die paneel is ten gunste van dialoog tussen Gaddafi en die rebelle.
Suid-Afrika en Tripoli is midde in 'n diplomatieke geskil oor die dood van die fotograaf Anton Hammerl.
Die Suid-Afrikaanse regering het Libië daarvan beskuldig dat hy geweet het dat Hammerl in April doodgeskiet is.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- RSG