Zuma, Russe oortuig nie oor lugaanvalle
2011-07-05 07:58
Moskou – Pogings deur pres. Jacob Zuma en pres. Dmitri Medvedev van Rusland om Navo-lande te oortuig om hul lugaanvalle op teikens in Libië te staak, het Maandag oënskynlik misluk.
Anders Rasmussen, sekretaris-generaal van Navo, het Zuma en Medvedev se bewerings ontken dat Navo die Verenigde Nasies (VN) se mandaat vir gewapende optrede teen die regime van kol. Muammar Gaddafi oorskry.
“Ons het ’n mandaat (van die VN se Veiligheidsraad) om alles wat nodig is te doen om burgerlikes teen aanvalle te beskerm en ons slaag in dié taak,” het Rasmussen in Sochi, naby Medvedev se vakansiewoning aan die Swart See, gesê ná ’n ontmoeting met die Russiese president.
Vroeër Maandag het Medvedev aan die hand gedoen dat hy en Zuma die Navo-beraad saam oor hul besware teen die voortgesette aanvalle toespreek.
“Ons handhaaf grootliks dieselfde sienings oor Libië as ’n soewereine staat,” het Medvedev tydens sy ontmoeting met Zuma verwelkom.
Zuma het die kans verwelkom om Navo in te lig oor die Afrika-Unie (AU) se sienings oor Libië en die plan om verteenwoordigers van Gaddafi se bewind en die rebelle se Nasionale Oorgangsraad binne enkele weke in Addis Ababa om die onderhandelingstafel te kry.
Ingevolge die AU-plan moet ’n skietstaking bewerkstellig word.
Rebellemagte moet hulle aan die pleine om Tripoli, waar Gaddafi hom bevind, onttrek om ’n multinasionale VN-mag die kans te gee om ’n buffersone te vestig.
Die rebelle het die AU-plan verwerp.
Gaddafi het op sy beurt alle pogings verwerp om hom van mag te laat afsien.
– Reuters en Sapa-AFP