Zimbabwe wil ivoor verkoop
2012-08-24 10:47
Harare – Zimbabwe het sowat 50 ton ivoor bymekaar gemaak en gaan die internasionale liggaam wat die handel van ivoor reguleer, vra of hulle die ivoor kan opveil om geld in te samel om die diere te bewaar.
Die ivoor is of gekonfiskeer by stropers of is gekry van diere wat natuurlik doodgegaan het, het natuurbewaringsbeampte bekend gemaak.
Zimbabwe sê dit moet ekstra geld insamel om te help om na die land se groeiende olifantbevolking om te sien. Zimbabwe het sowat 100 000 olifante.
Volwasse olifante eet daagliks sowat 100 kg tot 300 kg kos en amptenare sê met die bevolking wat so vinnig groei, is die olifante besig om die arm land se hulpbronne uit te put. Die olifante begin ook ‘n bedreiging vir die plantlewe inhou.
Sowat $30 miljoen (sowat R249 miljoen) word jaarliks benodig om die diere in Zimbabwe te bewaar, maar Vitalis Chadenga, direkteur-generaal van die parke en natuurlewe se bestuursowerheid, het aan Reuters gesê die huidige begroting is baie minder.
“Daar gaan ‘n punt kom waar ons olifantbevolking so groot gaan raak dat hulle hulsef gaan begin vernietig, dit gebeur al klaar in sommige van die parke,” het Chadenga gesê.
Zimbabwe het tot Oktober om sy versoek aan die liggaam wat die handel van ivoor beheer, te rig.
Bewaarders is egter bekommerd dat die verkoop van ivoor die aanvraag daarna sal verhoog, veral in Asië waar ivoor baie gewild is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters