Zimbabwe begin weer skryf aan grondwet
2010-01-04 08:55
Media24-Afrika-kantoor
Harare – Zimbabwe begin weer Maandag aan sy grondwet werk.
Die proses is al twee maande lank agter skedule. Dit hervat Maandag met ’n vergadering van parlementslede voordat die openbare deelname later die week aan die gang kom.
Douglas Mwonzora van die MDC en medevoorsitter van die parlementêre komitee vir ’n nuwe grondwet (Copac) het Sondag gesê dat alle wetmakers na verwagting vandag in Harare sal vergader om geakkrediteer te word en oor die proses en hul rol ingelig te word.
“Dié keer sien ons geen struikelblokke nie. Hoewel ons minstens twee maande agter skedule is, het ons ’n program opgestel waarmee ons sal vergoed vir verlore tyd,” het Mwonzora gesê.
Hy het bevestig dat die hooffigure in die Globale Politieke Ooreenkoms (GPO) wat die groen lig gegee het vir die skryf van ’n nuwe grondwet en die tydraamwerke daarvoor, na verwagting tydens die uitreikprogram later sal voorsit.
Dié hooffigure, pres. Robert Mugabe en premier Morgan Tsvangirai en sy adjunk, Arthur Mutambara, sal na verwagting ook steeds hul partye in die voortgesette magsdelingsonderhandelings lei, hoewel Mugabe nog amptelik met verlof is.
’n Nuwe grondwet sal na verwagting teen September reg wees, volgens die GPO.
Die skryf van ’n nuwe grondwet is vertraag deur ’n geldtekort en ander onsekerhede, waaronder konflik tussen die verskeie owerhede wat met die proses belas is.
Die geld is nou daar en lede van die 17 subkomitees en uitreikspanne sal van Vrydag tot Sondag opgelei word. Daarna sal hulle na verwagting in al die land se wyke ontplooi word.
Altesame 560 mense sal na verwagting aan die uitreikprogramme deelneem en opgelei word oor die openbare deelnameproses.
Volgens die GPO sal ’n konsepgrondwet nie later nie as die eerste week van April opgestel word voordat ’n tweede konferensie van belanghebbendes gehou sal word.
As dié konsep aanvaar word, sal dit aan die parlement voorgelê word vir publikasie voordat ’n referendum gehou word.
Ontleders het die moontlikheid van vroeë verkiesings uitgesluit omdat al die land se politieke partye om verskeie redes verkies om verkiesings in 2013 te hê.
Mugabe en sy Zanu-PF-party is volgens ontleders nog nie reg vir verkiesings nie en sal beslis enige verkiesing oor die volgende twee tot drie jaar verloor.
- Beeld