Zimbabwe: Diamantbase ontken bedrog
2010-11-10 14:14
Harare - Regsverteenwoordigers van die ses bestuursamptenare van diamantmyne wat in Zimbabwe aangehou word weens 'n beweerde bedrogspul, het Dinsdag in die hof aangevoer dat daar geen gronde is vir hul aanhouding nie.
Die ses amptenare is onder arres geplaas op grond van vermoedens dat hulle ongeregtelik 'n lisensie verkry het om diamante te ontgin by die omstrede Marange-diamantveld.
"Ons sit met 'n baie eenvoudige saak wat oor 'n kontrak gaan," het Lewis Uriri, regsverteenwoordiger, aan die hof gesê tydens die borgtogaansoek.
"Die bedrogklag dra nie water nie."
Die ses grootkoppe is Dominic Mubaiwa, hoof- uitvoerende beampte van die regering se firma Zimbabwe Mining Development Corporation, en Lovemore Kurotwi, die plaaslike hoof van Canadile Miners, 'n projek wat gesamentlik deur Zimbabwe en Suid-Afrika bestuur word.
Die aangeklaagdes word daarvan beskuldig dat hulle die regering 'n rat voor die oë gedraai het deur voor te gee dat 'n Suid-Afrikaanse besigheid bereid was om $2 miljard (sowat R13,8 miljard) te gee om die lisensie te bekom.
- AFP