Zim vra noodfondse te midde H1N1
2009-08-21 14:49
Harare – Die Zimabwiese premier, Morgan Tsvangirai, vra vir noodfondse om dié land te help om die H1N1-virus te bekamp nadat vyf studente in Mutare dié virus opgedoen het.
“Die onlangse uitbreek van die H1N1-virus vra vir ’n nasionale noodfonds om te reageer,” het Tsvangirai tydens ’n konferensie aan dokters gesê.
“Ons wil nie ’n herhaling hê van die cholera-ondervinding nie,” het Tsvangirai gesê, maar het nie aangedui hoeveel geld die regering nodig het nie.
Meer as 2400 mense is oor die laaste jaar weens cholera dood en beamptes van die Verenigde Nasies het gewaarsku dat dié siekte weer kan uitbreek.
Die gevalle van die H1N1-virus wat in Zimababwe aangemeld is, het ’n vrees oor Zimbabwe se gesondheidstelsel aangewakker.
Dokters by staatshospitale staak sedert verlede week vir beter salarisse.
Tsvangirai het dokters gevra om terug te gaan werk toe en hulle verseker dat die regering hulle probleme aanspreek.
– Sapa-AFP