Zim vliegtuig bots teen varke
2009-11-05 13:50
Harare, Zimbabwe – ‘n Vliegtuig van Zimbabwe se nasionale lugredery het in die opstyg-proses in vyf wilde varke op die aanloopbaan in Harare vasgery, het die land se departement van vervoer gesê.
Die minister van vervoer, Nicholas Goche, het Donderdag in ‘n verklaring gesê dat die Air Zimbabwe vliegtuig van Harare na Bulawayo onderweg was toe die ongeluk plaasgevind het.
Al 34 passasiers en bemanningslede aan boord is veilig uit die vliegtuig.
Volgens Goche se verklaring is die vliegtuig in die ongeluk beskadig. Die landingstoestel het as gevolg van die impak ingegee en die vliegtuig is van die aanloopbaan af. Die neus, een enjin en ‘n vlerk is beskadig.
Goche het nie gesê wat van die varke geword het nie.
- Sapa-AP