Zim verdien R518 miljoen uit diamantveiling
2010-08-13 14:11
DieBurger
Harare. – Die Zimbabwiese regering het sowat $71 miljoen (nagenoeg R518 miljoen) gemaak uit die verkoop van ongeslypte diamante van sy Chiadzwa-diamantmynveld.
Volskaalse diamantuitvoere is Woensdag hervat toe byna ’n miljoen karaat by die lughawe hier aan internasionale kopers opgeveil is.
“Ons het 893 000 karaat teen ongeveer $80 (R583) elk van die hand gesit,” het mnr. Obert Mpofu, minister van mynwese, gesê.
Hy het voor die veiling, wat deur kopers van onder meer Amerika, Libanon, Indië en Israel bygewoon is, gesê 4,5?miljoen karaat se diamante sou opgeveil word.
’n Monitor van die Kimberley-proses (KP), die internasionale liggaam wat gestig is om beslag te lê op diamante waarmee konflikte gefinansier word, het egter slegs ’n kwart van die diamante gesertifiseer.
“Ons verwag hy sal in September terugkeer om na die res van die voorraad te kyk,” het Mpofu gesê.
Die KP het Zimbabwe verlede jaar beveel om sy diamantuitvoere op te skort ná berigte van erge menseregteskendings deur die weermag teen kleinboere en die inwoners van Chiadzwa.
Dit het gevolg nadat die weermag in 2008 op onwettige diamantdelwers toegeslaan het. Human Rights Watch het gesê talle mense is dood en beseer, maar die regering ontken dit.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger