Zim staak kraguitvoere na Nam
2010-01-14 07:36
Harare - Zimbabwe se kragvoorsiener is beveel om die uitvoer van elektrisiteit na Namibië te staak en eers in sy eie behoeftes te voorsien, het die land se staatskoerant Woensdag berig.
Volgens die Herald het Elia Mudzuri, Zimbabwe se minister van energie, gesê dié land se kragstasies kan nie voortgaan om elektrisiteit na Namibië uit te voer, soos wat daar in ‘n ooreenkoms in 2007 aangegaan is nie.
Zimbabwe moet tans self elektrisiteit invoer weens sy kragtekort, het Mudzuri gesê.
“Ons kan nie ‘n situasie hê waar ons moet invoer om te kan uitvoer nie,” het Mudzuri aan die koerant gesê.
“In die verlede het ons nooit opgehou om krag aan (Namibië) te voorsien nie, selfs toe die Hwange-kragstasie foutief was.
"Dit het beteken dat ons ingevoer het en dan weer moes uitvoer. Dis net nie reg nie,” het hy gesê.
Zimbabwe ervaar gereelde kragonderbrekings wat by tye tot 15 ure duur.
In 2007 het Zimbabwe en Namibië ‘n ooreenkoms onderteken waarvolgens Namibië ‘n lening van R40 miljoen toegestaan het aan Zimbabwe om te help met herstelwerk aan sy kragstasies.
Zimbabwe sou dan dié lening in die vorm van elektrisiteit aan Namibië terugbetaal.
- Sapa-AFP