Zim-redakteurs op borgtog ná nag in tronk
2010-12-02 11:44
Harare - Borgtog is Woensdag aan die redakteur van ’n Zimbabwiese koerant toegestaan nadat hy die nag in die tronk moes spandeer.
Sy inhegtenisname volg op’n nuwe aanslag op die land se onafhanklike pers.
Njovani Madanhire, redakteur van die Sunday Standard, is Dinsdag in Harare gearresteer omdat hy na bewering ’n vals berig gepubliseer het wat bevooroordeeld jeens die staat is.
Verlede week is Nqobani Ndlovu, ’n Standard-verslaggewer, ná nege dae in polisie-aanhouding vrygelaat nadat die hoë hof die saak teen hom uitgegooi het.
Hy is gearresteer weens ’n berig dat die polisie militante lede van pres. Robert Mugabe se Zanu-PF-party werf vir operasies teen opposisiepartye.
Die polisie het Constantine Chimakure, redakteur van The Zimbabwe Independent, ook ’n rukkie aangehou en aangekondig hulle soek na Wilf Mbanga, redakteur van The Zimbabwean, wat in Londen gesetel is.
Die twee word gesoek op aanklagte soortgelyk aan dié wat teen Madanhire en Ndlovu ingedien is.
Mugabe het onlangs gesê hy het geen nut meer vir die 19 maande oue magsdelingsadministrasie saam met Morgan Tsvangirai nie en wil teen Junie ’n verkiesing hê.
Daar is wydverspreide vrees dat ondersteuners van die 86-jarige president nog ’n bloedige terreurveldtog teen teenstanders van stapel gaan stuur.
“Daar is vreeslik baie op die spel met die komende verkiesing,” het Vincent Kahiya, hoofredakteur van Alpha Media, wat die Standard en Independent besit, gesê.
“Ons sien aanduidings van nog vreeslike goed wat vir die media wag.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA