Zim kry fonds vir arm kinders en swanger vroue
2011-11-01 16:33
Morondera – Zimbabwe het Maandag met die hulp van die Europese Unie en Unicef ‘n R3.5 miljard-fonds bekendgestel wat kinders en swanger vroue van gratis mediese behandeling in publieke hospitale sal voorsien.
“Die instelling van gebruikersgeld is een van die grootse hindernisse vir arm vroue en kinders wanneer dit kom by toegang tot kritiese mediese dienste wat lewens in Zimbabwe kan red,” het Peter Salama, die verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se kinderagentskap in Zimbabwe, gesê.
Unicef het gesê Zimbabwe se gesondheidsorgstelse,l wat in duie gestort het na jare se swak ekonomiese toestande, benodig $436 miljoen (R3.5 miljard) binne die volgende vyf jaar om sy kapasiteit te verbeter – veral wanneer dit kom by die verskaffing van babasorg.
Die fonds word ondersteun deur verskeie agentskappe en lidlande van die Europese Unie, soos Ierland, Noorweë, Swede en Brittanje.
Die geld sal medisyne en basiese toerusting aan klinieke en hospitale van oor die land verskaf.
Henry Madzorere, die minister van gesondheid, het die fonds verwelkom en gesê dit sal groot verligting verskaf en die gesondheidsdienste in die land aansienlik verbeter.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP