'Zim is veilig vir Nestlé'
2009-12-25 11:00
Harare - Zimbabwe het die voedselreus Nestlé verseker hulle werkers is veilig na 'n geskil oor die aankoop van melk vanaf 'n plaas in die besit van Robert Mugabe se familie, wat die maatskappy genoop het om hul bedrywighede te staak.
Welshman Ncube, minister van Industrieë, het Vrydag gesê hy het met afgevaardigdes van Nestlé Zimbabwe en plaaslike amptenare vergader. Daar was glo besluit dat die melk van Gushungo Dairies, wat besit word deur Mugabe se familie, deur plaaslike prosseseerders gekoop moet word.
In Oktober het Nestlé hul aankope van die Mugabe-plaas gestaak. Dié plaas was een van talle wat deur die land se omstrede landhervorming van wit boere afgeneem is.
"Die regering het die versekering aan Nestlé en Gushungo Dairies gegee dat hul werkers en bestuur veilig is," het Ncube gesê.
Nestlé het die vergadering bevestig, maar wou nie uitbrei nie.
Die Switserse voedselreus het gesê Zimbabwiese regeringsamptenare en polisie het Saterdag uit die bloute by die perseel opgedaag en werkers glo forseer om 'n aflewering melk van 'n nie-gekontrakteerde plaas - glo in besit van die Mugabes - te aanvaar.
Maandag het Nestlé hul fabriek se deure gesluit.
- Sapa