Zim-gesin vlug vir plaasbesetters
2011-07-23 10:26
Johannesburg – Terwyl ’n boer van Zimbabwe in die polisieselle in dié land aangehou is, moes sy gesin ná ’n skietery met plaasbesetters vlug.
Koos Smit (58) van die plaas De Rust in die Nyazura-omgewing naby Mutare in die ooste van die land, is aangehou omdat hy glo die Zimbabwiese regering “teister” en ’n plaasbesetter aangerand het.
Terwyl Smit, wat in Zimbabwe gebore is, maar sterk Suid-Afrikaanse bande het, aangehou is, het die plaasbesetters Vrydagoggend omstreeks 02:00 die huis se deure afgebreek.
Hulle het Smit se gesin verdryf nadat daar ’n oor-en-weerskietery was. Die plaasbesetters het sedert Woensdag buite die plaashuis gewag.
Smit se vrou, Mary-Anne (50), en hul seuns, Adriaan (29) en Michael (27), kon net met ’n enkele voertuig vlug. Hulle moes toerusting wat na raming meer as R4 miljoen werd is, agterlaat.
“Dit was ’n angswekkende ervaring,” het Adriaan Smit Vrydagoggend gesê.
“My pa is gelukkig intussen op borgtog vrygelaat. Dis glad nie waar dat hy een van die besetters aangerand het nie.”
Die Smits het in 1999 by die Zimbabwiese regering toestemming gekry om in die plaashuis aan te bly nadat hul plaas as deel van die regering se grondhervormingsprogram aan nuwe eienaars gegee is.
Hulle het sedertdien ander grond gehuur om met tabak en beeste te boer.
Die groep besetters wat Woensdagoggend by die plaas opgedaag het, het eers die plaashek afgebreek en toe die krag- en watertoevoer na die plaashuis afgesny.
Die Smits was daarna in die huis vasgekeer.
Adriaan Smit het Donderdag ’n verklaring oor die plaasbesetters by die polisie en ’n prokureur afgelê.
Twee ander boere is die laaste paar dae ook opdrag gegee om hul plase te ontruim. Hulle is Paul Grobler en Peter Landos.
Alida du Toit, ’n Suid-Afrikaner wat ook in die omgewing boer, het vroeër vandeesweek ’n e-pos aan die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Harare gestuur waarin sy om hulp vra.
Du Toit het in die e-pos gesê lugkommodoor Innocent Chiganze van die Zimbabwiese lugmag – wie se naam gereeld by grondbesettings opduik – was onlangs op hul plaas en sy verwag probleme.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA