Zim benodig dalk SA se hulp met paspoorte
2010-12-02 05:20
Pretoria – Zimbabwe mag dalk die hulp van die Suid-Afrikaanse regering nodig hê om nuwe Zimbabwiese paspoorte uit te reik omdat die land nie genoeg paspoorte op sy eie kan uitreik nie, het Theresa Makone, Zimbabwe se mede-minister van binnelandse sake, Woensdag gesê.
Makone, wat samesprekings met die haar Suid-Afrikaanse eweknie, Nkosazana Dlamini-Zuma, en haar mede-minister, Kembo Mohadi, gevoer het, het gesê Zimbabwe kan slegs 500 paspoorte per dag prosesseer.
"Die aantal paspoortaansoeke wat nou inkom toon dat ons teen 21 Desember 'n duidelike agterstand sal hê.
"Ons is besig in gesprek met die minister om te sien of dit moontlik is vir Suid-Afrika om ons selfs in 'n latere stadium met die papierwerk by te staan," het sy gesê.
Sy het gesê Zimbabwe se toerusting vir die prosessering van die dokumentasie, kan nie die aantal aansoeke hanteer nie.
Zimbabwiërs wat nie die korrekte studie-, werk- en verblyfpermitte het nie, het tot 31 Desember om aansoek te doen vir die nodige dokumentasie om dié permitte te bekom.
Volg Nuus24 op Twitter