Zim banke leen te min geld uit
2009-07-13 12:45
Lede van die Bankvereniging van Zimbabwe (BAZ) kan nie op 'n volhoubare basis geld aan die publiek uitleen nie, het die Herald Maandag berig.
Dít is as gevolg van die tekort aan langtermyn deposito's in kliënte se rekeninge.
Die president van die Reserwebank van Zimbabwe, mnr. Gideon Gono, het verlede week aangevoer dat banke aan miljoene Amerikaanse dollars vasklou, eerder as om dit aan geloofwaardige besighede uit te leen. In reaksie hierop het die BAZ gesê dat hulle lede "billike" lenings onder die omstandighede gee.
Mnr. John Mangudya, president van die BAZ, het die banke verdedig en gesê hulle het geen baatsugtige motiewe om niè geld uit te leen nie, berig die Herald.
Hy het aan die koerante gesê dat banke die klein hoeveelheid deponeerders wat hulle het, se geld wil beskerm.
"In terme van die lenings wat uitgegee word is die hoeveelhede billik," het hy gesê.
"Banke is nie so sleg as wat mense dink nie."
Volgens Gono het die banke teen die einde van Mei 2009 met $600 miljoen Amerikaanse dollars (R5 miljard) in deposito's gesit.
Hy het gesê dat sommige banke, wat met tot $190 miljoen (R1,5 miljard) sit, slegs $2 miljoen (R16,6 miljoen) uitgeleen het.
- Sapa