Zim-amptenaar: Seks één keer per maand kan vigs keer
2011-07-16 20:55
Harare – 'n Zimbabwiese parlementslid het 'n beroep op wetenskaplikes gedoen om 'n middel te ontwikkel wat mans se seksdrang verminder sodat hulle net een keer per maand seks wil hê, om sodoende die verspreiding van MIV/vigs hok te slaan.
Senator Sithembile Mlotshwa het in die parlement se hoërhuis gesê wetenskaplikes moet ondersoek instel om te kyk "of hulle mans met 'n middel kan probeer inspuit wat hulle hul [seks]-aptyt sal laat verloor...".
Dié voorstel is gemaak tydens 'n debat oor die verspreiding van MIV/vigs in Zimbabwe.
"Ek wil 'n bydrae maak deur te sê al die ander opsies is al oorweeg en die enigste opsie wat oor is, is vir ons parlementslede om te besluit of voor te stel dat mans se aptyt en hulle onblusbare drang vir vroue verminder moet word."
Zimbabwe is een van die lande in die wêreld wat die meeste deur die MIV/vigs-pandemie geraak word, hoewel die hoeveelheid jaarlikse infeksies besig is om af te neem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP