Zim-aktivis dagvaar regering
2009-07-27 16:32
Harare – Die Zimbabwiese aktivis Jestina Mukoko wat verlede jaar deur agente van pres. Robert Mugabe ontvoer is, dagvaar dié staat vir meer as $200 000 (sowat R1,5 miljoen) vir marteling terwyl sy aangehou is.
Mukoko, direkteur van die Zimbabwe Peace Project (ZPP), is laat verlede jaar by haar huis ontvoer en by verskeie plekke vir drie weke aangehou.
Sy en ander was daarvan verdink dat hulle opposisie-kaders vir militêre opleiding in Botswana gewerf het. Ingevolge Zimbabwiese wette is dit hoogverraad en met die dood strafbaar.
Die 52-jarige ma sê sy is toegang tot medikasie en prokureurs geweier en is tydens haar aanhouding gemartel.
Mukoko voer ook aan dat dié staat nie haar ontvoerders in hegtenis geneem het nie.
SAPA-DPA