Zim-adjunk vra ondersoek na haar man se dood
2011-08-25 13:45
Harare – Joice Mujuru, Zimbabwe se adjunkpresident, het gevra dat ‘n behoorlike ondersoek na die dood van haar man verlede week tydens ‘n brand by hul plaashuis gedoen moet word, het NewsDay, ‘n onafhanklike Zimbabwiese koerant, Woensdag berig.
Solomon Mujuru was pres. Robert Mugabe se militêre hoof tydens Zimbabwe se oorlog vir onafhanklikheid in die 1970’s.
Hy was ook ‘n invloedryke lid van die regerende Zanu-PF-party.
“Die ondersoekers moet vir ons sê wat vanaf 20:30 daardie aand gebeur het toe hy by die huis gekom het tot wanneer die brand opgemerk is,” het Mujuru gesê.
Solomon was die Zimbabwiese weermag se eerste bevelvoerder nadat die land onafhanklikheid verkry het. Hy is in ‘n brand by sy plaashuis op 16 Augustus dood.
Mujuru het bevraagteken hoekom haar man nie kon wegkom nie. Sy het gesê daar is talle uitgange in hulle 18-slaapkamerhuis.
Solomon, ‘n gerespekteerde militêre en politiese figuur, is as ‘n nasionale held verklaar.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP