Zim: Joernalis in hegtenis geneem oor minister-storie
2011-06-29 15:49
Harare - Zimbabwiese polisie het Woensdag ‘n joernalis van ‘n weeklikse koerant in hegtenis geneem nadat sy verlede week berig het oor die inhegtenisname van een van Morgan Tsvangirai, die premier, se vennote, het SAPA-dpa berig.
Patience Nyangoyo het vir The Standard oor die inhegtenisname van Jameson Timba geskryf. Hy is ‘n minister in Tsvangirai se kantoor en is daarvan beskuldig dat hy president Robert Mugabe “ondermyn het” deur hom ‘n leuenaar te noem.
Timba is intussen vrygelaat.
Nyangoyo se prokureur, Chris Mhike, het gesê hy was by die Harare Sentrale Polisiestasie saam met sy kliënt.
“Ons is nog nie meegedeel waarvan sy aangekla is nie. Ons weet net dit is in verband met die storie wat sy oor minister Timba geskryf het,” het Mhike gesê.
Iden Wetherell, die senior mede-redakteur van Zimbabwe se Alpha Media Holdings, het die inhegtenisname veroordeel.
Wetherell het aan News24 gesê dit bewys net dat die land se regering nie in ooreenstemming is met die vereistes van die Globale Politieke Ooreenkoms wat in 2009 geteken is nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.