Zim: Beamptes aangekla vir wildstropery
2010-02-12 09:59
Harare – Die leier van ‘n Verenidgde Nasies-program wat bedreigde spesies beskerm het Zimbabwiese sekuriteitsbeamptes van wildstropery aangekla.
Willem Wijnstekers, sekretaris-generaal van die VN Konvensie van Internasionale Handel in Bedreigde Spesies, het Donderdag by ‘n perskonferensie in Harare gesê dat sekuriteitsbeamptes ongeveer 200 renosters in die afgelope 20 jaar doodgemaak het.
Die wildstropery van die renosters in Zimbabwe plaas hulle getalle in gevaar en maak uitsterwing moontlik.
Volgens Wijnstekers word olifante ook doodgemaak, maar hy het nie die hoeveelheid genoem nie.
Die aanklagtes teen die sekuriteitsbeamptes is ook nie bekend gemaak nie.
Volgens Wijnstekers is daar nou talle vrae oor die Zimbabwese regering en of hulle genoeg doen om hul wild te bewaar.
Indien Zimbabwe nie voor ‘n komitee verskyn en die wildstropery verduidelik nie, sal hulle verban word om met ivoor handel te dryf.
Wijnstekers het eerste minister Morgan Tsvangirai glo ingelig oor die wildstropery.
“Hy (Tsvangirai ) het sy bekommernis uitgedruk en gesê dat die sekuriteitsbeamptes in hegtenis geneem moet word aangesien hy die probleme wat met die wild gebeur besef,” het Wijnstekers gesê.
Een van die doelwitte van die koalisie-regering wat ‘n jaar terug gestig is, is om die regsreëls te herstel.
President Robert Mugabe, wat die land sedert 1980 lei, word daarvan aangekla dat hy die getrouheid van sy sekuriteitsbeamptes koop deur hulle toe te laat om misdaad te pleeg.
- Sapa-AP