Zim: 44 gays en lesbiërs gearresteer
2012-08-13 22:53
Harare – Die polisie in Zimbabwe het die afgelope naweek 44 gay-aktiviste tydens 'n klopjag op die hoofkwartiere van die vereniging Gays and Lesbians of Zimbabwe (Galz) in Harare in hegtenis geneem, het die groep Maandag gesê.
Die polisie se klopjag kom terwyl aktiviste gereed gemaak het vir die bekendstelling van 'n verslag oor die mishandeling van gays en lesbiërs in die land, waar homoseksualiteit onwettig verklaar is en pres. Robert Mugabe gesê het gays is "erger as honde en varke".
"Die polisie, waarvan sommige van hulle sigbaar dronk was, het die meeste van die lede aangerand deur knuppels te gebruik," het Galz in 'n verklaring gesê en bygevoeg dat die aktiviste geskop en geslaan was.
Die 44 lede is na die Harare- sentrale polisiekantoor geneem waar hulle aangehou is voordat hulle Sondag vrygelaat is sonder om aangekla te word.
"Galz verskoon nie die geweld nie en ons is nie 'n bedreiging nie," is in die verklaring gesê.
"Diegene wat geweld veroorsaak is 'n bedreiging vir die publiek se veiligheid en sekuriteit en ons vra dat hulle van ons perseel moet wegbly."
James Sabau, 'n polisiewoordvoerder, ontken dat die groep in hegtenis geneem is en sê hulle is na die polisiestasie geneem sodat hulle "ondervra" kon word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA