Zim: 11 verdrink ná boot omslaan
2011-12-26 13:40
Harare – Die Zimbabwiese polisie het Maandag gesê duikers het 11 lyke uit die Chivero-meer, naby die hoofstad, Harare, verwyder.
Dit volg ná 'n boot laat op Kersdag op die meer omgeslaan het.
"Ons het nou al die lyke gevind," het Andrew Phiri, 'n woordvoerder vir die Zimbabwiese polisie, aan die nuusagentskap DPA gesê.
"Die boot het omgeslaan na dit deur 'n golf getref is," het hy bygevoeg.
Altesaam agt mense, insluitend drie bemanningslede, het oorleef ná hulle daarin geslaag het om na die wal te swem.
Die Chivero-meer, wat sowat 20 km suid-wes van Harare geleë is, is ook vol krokodille.
Die oorlewendes het owerhede van die ongeluk in kennis gestel, waarna duikers gestuur is om die lyke te vind.
'n Wildbewaarder by die meer het ook Saterdagaand verdrink ná sy boot in 'n onverwante voorval omgeslaan het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA