Zanu PF wil nóg plase oorneem
2011-12-11 13:07
Harare – Zimbabwe se Zanu PF-party oorweeg dit om die oorblywende plase in wit besit ook oor te neem om grondlose Zimbabwiërs daarop te hervestig.
Luidens 'n interne verslag wat by die party se jaarlikse konferensie ingedien is, word aanbeveel dat 198 plase in wit besit in die staatskoerant afgekondig word om onteien te word om aan die voortgesette vraag na grond in die landelike gebiede te voldoen.
Partylede sal op die konferensie besluit of hulle die aanbeveling wil aanvaar of nie. Volgens die verslag besit wit boere nog sowat 100 000 hektaar grond.
Nog 220 boere word op die oomblik vervolg omdat hulle nie van hulle grond af wil padgee nie. 'n Voormalige president van die liggaam wat wit boere verteenwoordig, Dion Theron, sê so 'n stap sal rampspoedig wees vir die land, veral in die langtermyn.
– RSG
– Volg Nuus24 op Twitter