Zanu-PF sukkel om te betaal vir konferensie
2011-12-08 08:22
Bulawayo – Zanu-PF kort nog nagenoeg $400 000 (meer as R3 miljoen) vir sy jaarlikse partykonferensie wat vandag amptelik deur pres. Robert Mugabe amptelik geopen word.
Die konferensie, wat Bulawayo sedert Dinsdag in rep en roer het, kos Zanu-PF sowat $1 miljoen vir kos, blyplek en veiligheidsmaatreëls vir die duisende afgevaardigdes wat by die Zimbabwe International Trade Fair byeenkom.
Volgens sommige Zanu-PF- leiers word tot 6 000 afgevaardigdes verwag, terwyl ander voorspel sowat 3 000 Zanu-PF-lede van regoor die land sal die konferensie bywoon.
Die party het gehoop om die meeste van sy konferensiekoste te dek deur ’n uitstalling van sake-ondernemings langs die konferensiesaal, maar tydens Beeld se besoek was net sowat 15 van die verwagte 40 uitstallers daar. Hulle was van maatskappye soos NetOne, die regering se selfoonmaatskappy, en die burgerlugvaartowerheid, wat ook aan die staat behoort.
Van die 150 informele handelaars wat verwag is om buite op die gras uit te stal, het slegs sowat 50 opgedaag.
Die provinsies moet elk met geldinsamelingsprojekte $50 000 bydra tot die konferensie, maar weens Zimbabwe se swak ekonomie kon ’n provinsie soos die Bulawayo-regeringsdistrik net $21 000 bydra.
Wanneer Mugabe vandag die konferensie amptelik open, sal verskeie skenkers na verwagting hul lojaliteit aan die party bewys deur in die openbaar geld te skenk.
Nie-regeringsorganisasies soos Global Witness het vandeesweek gesê Marange-diamante betaal waarskynlik ’n wesenlike deel van die konferensierekening, maar dit word nie openbaar
gemaak nie, want na regte behoort staatsgeld nie vir party-aktiwiteite aangewend te word nie.
Mugabe het gister by ’n boomplantseremonie by die Milton-hoërskool vertel hoe hy ’n teefabriek in Dubai besoek het.
“Die man wat my rondgewys het, is Brits. En toe ek hom vra waar hy die tee vandaan kry, antwoord hy: ‘Ons kry van Zimbabwe, Tanzanië en Kenia.’ So hulle gebruik ons tee om blare te meng en dan tee te maak wat hulle Engelse tee noem,” het hy sarkasties gesê.
Die skare is in busse aangery en almal is ’n bord pap en beesvleis in die hand gestop voordat die verrigtinge begin het.
Mugabe en sy vrou, Grace, is by hul aankoms net met ’n bedeesde handeklappery deur die skare begroet. Die grootste deel van Mugabe se toespraak het die Zanu-PF-ondersteuners doodstil gesit of oor hul selfone gepraat.
– Volg Nuus24 op Twitter.