Zambië waarsku China om wette te gehoorsaam
2011-09-27 08:34
Lusaka – Michael Sata, die nuut-verkose president van Zambië, het Chinese beleggers gemaan om die land se arbeidswette te gehoorsaam, het RSG berig.
Sata, wat verlede week as president verkies is, is bekend vir sy sterk standpunt teen die invloei van Chinese beleggings in die land – veral in die mynbousektor.
China het sedert 2007 R50 miljard in Zambië belê.
Zambiërs het Chinese maatskappye daarvan beskuldig dat hulle Chinese werkers die land inbring en plaaslike inwoners swak behandel.
"Jou belegging moet tot Zambië se voordeel strek en jou volk moet ons wette nakom," het Sata aan Zhou Yuxiao, die Chinese ambassadeur wat op besoek in die land was, gesê.
"As hulle ons wette nakom, sal dit nie nodig wees om vingers na mekaar te wys nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG
- Sapa - AFP