Woede kook oor in Egipte
2011-11-26 07:21
Kaïro – Tienduisende Egiptenare wat ’n einde van die militêre bewind in hul land eis, het gister in die grootste optog in die week lange protesveldtog na Tahrir-plein opgeruk.
Die militêre owerheid het gister ’n oudpremier, mnr. Kamal Ganzouri (78), aangewys om ’n nuwe burgerlike kabinet te lei.
Amerika het ’n beroep op Egiptiese generaals gedoen om “so gou moontlik” te bedank en “onmiddellik” die mag aan die nuwe kabinet oor te dra.
Die betogers beskuldig die weermag dat hulle aan die mag vasklou sedert die opstand waarin oudpres. Hosni Moebarak op 11Februarie uit die kussings gelig is.
Die geweld in die strate tussen betogers en die polisie die afgelope week het tot dusver 41 lewens geëis en meer as 2000 is beseer, sê die departement van gesondheid.
“Ek het die veldmaarskalk (Mohamed Hoessein Tantawi, leier van die regerende militêre raad) gevra om vir my tyd te gee om ’n nuwe kabinet saam te stel wat almal gaan tevrede stel,” het Ganzouri, ’n veteraan-ekonoom, gesê.
Hy het gesê die nuwe regering sal nie voor Maandag bekend gemaak word nie. Egipte se eerste vrye parlementsverkiesing in dekades is vir Maandag geskeduleer.
Ganzouri was tussen 1996 en 1999 premier onder die Moebarak-bewind.
Die betogers in Tahrir-plein was woedend oor die aanstelling van die veteraan uit die Moebarak-era.
“Hulle het ’n dief gebring en hom met nog ’n dief vervang”, het die skare gedreunsing met verwysing na mnr. Essam Sjaraf se kabinet wat vandeesweek bedank het.
Betogers het ’n miljoen-mense-optog vir gister uitgeroep en dit “die Vrydag van die laaste kans” gedoop.
Sowat 5000 mense het ’n optog ter ondersteuning van die militêre raad elders in Kaïro gehou.
“Die militêre raad sal binne ses maande uittree. Maandag is daar ’n verkiesing. Wat meer wil die mense (in Tahrir-plein) hê?” wou ’n woedende betoger weet.
– Volksblad
- Reuters