Weste stuur veghelikopters na Libië
2011-05-24 08:50
Benghazi - Frankryk en Brittanje het besluit om aanvalshelikopers in Libië te ontplooi om Muammar Gaddafi se magte beter te kan teiken, het die Franse Weermag gesê.
Die stap sal weer die rebelle kan help om die stilstand waarin hulle tans verkeer te verbreek.
Die twee lande het gesê die aanvalle op die rebellebeheerde hawestad, Misrata, wat steeds voortduur is 'n aanduiding van die probleme waarmee die rebellemagte en Navo te doen het.
Volgens die rebelle probeer Gaddafi se magte om onder dekking van vuurpyl- en mortieraanvalle die stad binne te val.
Alain Juppe, die Franse minister van buitelandse sake, het gesê die besluit oor aanvalshelikopters is in ooreenstemming met 'n VN-resolusie om Libiese burgers en Navo se militêre operasies te beskerm.
Intussen is drie mense dood en 150 beseer tydens ‘n Navo-lugaanval in Tripoli, die Libiese hoofstad, het Mussa Ibrahim, die regeringswoordvoerder gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP