Weste se ingrype in Libië laat 'letsel' – Zuma
2011-12-10 19:58
Abuja – Navo se veldtog in Libië het 'n "letsel" op die kontinent gelaat wat lank sal neem on te genees, het pres. Jacob Zuma Saterdag gesê.
Zuma, wat deel was van 'n hoë-profiel-paneel van die Afrika-unie wat sonder sukses probeer het om tydens die Libiese krisis 'n wapenstilstand te bewerkstellig, het oor die Weste se ingrype in Libië gekla in 'n toespraak op 'n een dag lange besoek aan Nigerië.
"Die manier waarop Libië deur sommige lande in die ontwikkelde wêreld behandel is, bly vir Afrika 'n letsel wat baie jare sal neem om te genees," het Zuma gesê.
"Ontwikkelde lande met hulle eie agendas het 'n werklike demokratiese protes deur die mense van Libië gekaap, om hulle agendas van regime-verandering deur te voer," het Zuma gesê.
Hy het verder gesê Libië is "vir maande aanmekaar met bomme gepeper onder die voorwendsel dat burgerlikes se lewens gered is, en uiteindelik is die land se leier om die lewe gebring en nie in hegtenis geneem en voor 'n hof gedaag as hy 'n misdaad gepleeg het nie. Dit kon net in Afrika gebeur, nêrens anders nie.
"Ons vra dus vir Afrikane om saam te staan."
Zuma het gesê die Afrika-unie se beraad volgende maand "sal die vraag oor Libië baie ernstig moet bespreek, om hierdie land te help om na normaliteit terug te keer."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA