Werkers wil olielewering nou staak
2012-01-12 07:51
Lagos – Oliewerkers in Nigerië dreig om olieproduksie tot stilstand te bring indien die regering nie die subsidie op brandstof weer instel nie.
Die regering se besluit om die subsidie op te hef, het duisende Nigeriërs na die strate van Afrika se grootste olieprodusent laat opruk. Luidens berigte is 16 mense in botsings met die polisie dood sedert die verlammende landwye staking oor die opheffing van die subsidie Maandag begin het.
Die grootste oliewerkersvakbond, Pengassan, het Woensdag gesê die staking van olieproduksie “sal baie rampspoedig vir die land wees”.
“Die enigste oplossing vir die regering is om die subsidie terug te bring,” het Chika Onuegbu, ’n vakbondwoordvoerder, gesê.
Amptenare in die bedryf het egter gesê hulle twyfel of Nigeriese olie-uitvoere heeltemal gestaak sal kan word.
Nigerië voer meer as 2 miljoen vate ruolie per dag uit. Produksie word tot dusver nie deur die staking geraak nie, maar kommer bestaan dat dit wêreld-oliepryse kan opstoot.
Duisende Nigeriërs het Woensdag vir ’n derde agtereenvolgende dag landwyd betoog nadat brandstofpryse meer as verdubbel het. Hulle sê die staking gaan onbepaald voort.
Pres. Goodluck Jonathan het Woensdag gedreig om die salarisse van stakende staatsamptenare terug te hou.
Ekonome sê Nigerië sou binnekort bankrot gewees het indien die brandstofsubsidie behou sou word.
’n Betoger is Woensdag in Lagos gewond nadat die polisie geskiet het op ’n groep wat oproerig was. Hulle het brandende versperrings opgerig om die verkeer te ontwrig.
Betogings is ook in die hoofstad, Abuja, en in Kano in die noorde van die land gehou.
Baie banke, winkels, skole en restaurante asook die kantore van oliemaatskappye soos Shell en Exxon Mobil is gesluit en talle mense is by die lughawe in Lagos gestrand nadat vlugte gekanselleer is.
Agt mense, onder wie vier polisielede, is dood toe vermeende lede van die Islamitiese sekte Boko Haram Dinsdag op ’n kroeg in Potiskum in die noorde van die land losgebrand het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Reuters
- Die Burger