Vyf kinders dood ná bootongeluk in Burundi
2011-09-19 17:57
Bujumbura – Vyf kinders is dood en drie mense word vermis nadat ‘n boot op die Tanganyika-meer omgeval het op pad na Burundi vanaf die Demokratiese Republiek van die Kongo, het ‘n Burundese beampte Sondag gesê.
Sewentien van die 25 passasiers het die ongeluk oorleef. Die boot het ook houtskool en kassawe (broodwortel) na Rumonge in Burundi vervoer.
“Ons kon tot dusver die lyke van vyf kinders kry. Sewentien mense is gered en drie word nog vermis,” het Gerard Ndikumana, die administrator van Rumonge, gesê.
“Die Burundese vloot en vissermanne soek nog na die lyke van die vermiste mense. Dit is nie moontlik vir iemand om tien ure ná die ongeluk nog lewendig te wees nie,” het Ndikumana gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP