Vyf dood toe bom Keniaanse dorpie ruk
2012-01-01 15:51
Garissa, Kenia – Vyf mense is dood in 'n bomaanvaal en skietery op Oujaarsaand in die oostelike Keniaanse dorpie Garissa naby die grens met Somalië, het die polisie Sondag gesê.
'n Handgranaat is na 'n nagklub geslinger.
"Daar was 'n ontploffing in 'n klub in die dorp kort voor middernag (Saterdag) en vyf mense is dood," het 'n senior polisiebeampte by die land se noord-oostelike provinsiale polisiehoofkwartier aan die nuusagentskap AFP gesê.
"Ná die ontploffing in die klub was daar 'n skietery buite en mense het oral rondgehardloop. Dit wil voorkom of hulle Nuwejaarsvierings geteiken het," het die beampte bygevoeg, en gevra dat sy identiteit nie bekend gemaak word nie.
Die streekspolisiehoof Leo Nyongesa het aan AFP gesê: "Ons ondersoek die saak. Ons soek na die aanvallers."
Inwoners het die vrees uitgespreek dat die aanvallers dalk Somaliese Shebab-rebelle kan wees wat onmin tussen Christene en Moslems wil saai.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP