'Vordering met onderhandelinge' – Libië
2011-07-05 18:55
Tripoli – ‘n Senior Libiese beampte het Maandag gesê dat vordering gemaak is tydens onderhandelinge met die rebelle om die maande lange krisis in dié land te beëindig, maar een van die rebelle se leiers het egter ontken dat enige onderhandelinge plaasgevind het.
Mustafa Abdul-Jalil, ‘n leier van die rebelle, het ook gesê hy distansieer homself van die kommentaar dat Libiese opposisie dit sal oorweeg om Muammar Gaddafi, die Libiese leier, in die land sal laat bly as deel van ‘n oorgangsooreenkoms sou hy bedank en ‘n skietstilstand beveel.
“Die Libiërs wil nie hê Gaddafi moet bly nie, al is hy dood, ná wat hy gedoen het terwyl hy regeer het en tydens die opstand teen hom,” het Abdul-Jalil Maandag gesê.
Khaled Kaim, die adjunkminister van buitelandse sake, het in Tripoli gesê dat onderhandelinge met rebelleleiers reeds twee maande lank aan die gang is.
Hy het ook gesê dit is duidelik dat sekere ondersteuners van die Oorgangsregering nie ten gunste van die onderhandelinge is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP