Voormalige premier van Libië 'in gevaar'
2011-11-01 11:57
Benghazi – Die voormalige premier van Libië se regsverteenwoordigers sê hy is in gevaar omdat hy baie geheime van Muammar Gaddafi se regime ken.
Al-Baghdadi al-Mahmoudi word daarvan beskuldig dat hy onwettig na Tunisië gegaan het. Hy is vroeër in hegtenis geneem, maar sy skuldigbevinding is sedertdien teruggetrek.
Tunisiese owerhede hou hom egter steeds aan nadat die Libiese Nasionale Oorgangsraad versoek het dat hy uitgelewer word.
Sedert Gaddafi se dood is al-Mahmoudi die “enigste mens met kennis van geheime binne die staat en verhoudings tussen Libië en sekere magte,” het Mabrouk Korchid, die koördineerder van die premier se regspan, gesê.
Die prokureur het gesê dat al-Mahmoudi (70) swak is en aan diabetes ly.
Gaddafi en een van sy seuns is op 20 Oktober ná die val van Sirte gevange geneem en gedood.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP