Voormalige minister aangekla van korrupsie
2009-11-17 03:52
Maputo - ‘n Voormalige Minister van Vervoer en drie voormalige lughawe amptenare word verhoor op aanklagtes van korrupsie.
Antonio Munguambe, wat van 2005 tot 2008 Mosambiek se Minister van Vervoer en Kommunikasie was, word daarvan aangekla dat hy ‘n medepligtige was in die verduistering van R12.5 miljoen van die nasionale lughawe maatskappy “Airports of Mozambique”.
Die lughawe amptenare word daarvan aangekla dat hulle die publiek se geld gebruik het om te betaal vir luukse huise, karre en persente vir familielede.
Munguambe en sy voormalige stafhoof word daarvan aangekla dat hy die amptenare se geld-verduistering probeer toesmeer het.
Volgens Baltazar Sael, woordvoerder vir die Mozambican Public Integrity Center, is dit die eerste keer dat ‘n top staatsfiguur van korrupsie aangekla word.
Alhoewel die land statisties gesproke ‘n hoë vlak van korrupsie het, is dit gewoonlik net die sogenaamde “klein vissies” wat gevang word.
Munguambe is die eerste voormalige minister wat verhoor word op aanklagte van korrupsie.
Almerino Manhenje, voormalige minister van Binnelandse Sake, is in 2008 op aanklagte van korrupsie in hegtenis geneem, maar is weer vrygelaat.
Die hooggeregshof moet nog besluit of hulle hom gaan aankla of nie.
Munguambe is ook vrygelaat, tot en met sy korrupsie verhoor afgehandel is.
- Sapa