Vlugbom-man was maande vermis
2009-12-28 11:07
Abuja, Nigerië - Die familie van die Nigeriese man wat probeer het om 'n Amerikaanse passasiersvliegtuig op te blaas het gesê dat hulle met hom kontak verloor het terwyl hy in die buiteland studeer het.
Hulle het sy verdwyning sowat twee maande gelede aan Nigeriese owerhede gerapporteer.
"Sy pa het bekommerd geword oor sy verdwyning en die feit dat hy nie meer met sy familie kontak maak nie, en het sy verdwyning sowat twee maande gelede aan Nigeriese en internasionale owerhede gerapporteer," het 'n verklaring gelui wat deur die man se familie aan die Nigeriese media gestuur is.
Umar Farouk Abdulmutallab het na bewering probeer om op Kersdag 'n vlug van Northwest Airlines wat vanaf Amsterdam na Detroit onderweg was, op te blaas.
- Reuters