Vier sterf in wraakaanval
2009-12-21 14:38
Mogadishu –Minstens vier burgers het Maandag gesterf nadat die regering van Somalië ’n mortieraanval en kanonvuur geloods het in reaksie op ’n rebelle-aanval tydens ’n parlementsitting in Mogadishu, het getuies gesê.
Islamitiese rebelle het ‘n aanval op die burgemeester van die hoofstad se kantoor geloods waar Somalië hul eerste parlementsitting in maande gehou het, het amptenare gesê.
‘n Wraakaanval deur die regering het kort daarna op die Bakara en Holwadag woonbuurte toegesak waartydens talle inwoners gesterf het.
"’n Bom het teen die radiostasie ontplof. Drie mense het gesterf,” het Abshir Abdi Ali, hoof van programmering by die plaaslike radiostasie, Voice of Democracy gesê.
Die direkteur, Abdirahman Yasin Ali se vrou was onder die slagoffers wat gesterf het. Drie van sy kollegas is ook tydens die voorval beseer.
Niemand is tydens die aanval op die burgemeester se kantoor beseer nie.
Die situasie is nou weer onder beheer en die parlementsitting het voortgegaan.
‘n Amptenaar het gesê President Sharif Sheikh Ahmed sou die sitting bywoon.
-Sapa-AFP